Dagboek: Sondag, 11 November 2018

Mens kan seker weer allerhande stories oor die wind maak, maar dit daar gelaat. Vrot van die verkoue en die keel is seer. Van te veel son, te veel swem, te veel wyn, te veel lag. Soos Daleen sê gister is ons oor die brug, dorp uit en ‘n sandduin oor. Gaan alikreukels uithaal op Matie se plaas daar doer. Johan het baie trots sy eerste twee alikreuekels van die rotse gepluk en ek een. Barry het die rotsplate gestap en Andrê die diepsee aangepak met ‘n duikbril en snorkel en gesorg vir ‘n lekker pot gemaalde alikreuk saam met Matie se roosterkoek. Daleen en ek het souse gemaak en baie gelag. Maar eers het ons ‘n paar bottels wyn en ‘n braairooster oor die duin gedra, stompe langs die see opgetel en Stilbaai wors op die strand gebraai. Dit was ‘n beeldskone somersdag en die walvisse het op die regte tyd hul ding gedoen. Matie en Andrê het aanhou braai op die stoep van die plaashuis: makriel, en nog wors, en skaaplewer en roosterkoek vir Afrika. Toe die son begin sak vat ons die lorrie terug Jongensfontein toe. Ons mis toe uit op die groot braai wat nog moes kom. Skaaptjops. Hierdie week twee dinge reggekry by die boonste kafee wat ook soort van poskantoor is, ‘n aaslisensie uitgeneem en ‘n adres gekry. Mense kan nou vir ons briewe en rekeninge en bankstate stuur na Voêlkliplaan 25 en hulle bel van die winkel af as die pos daar aankom. Met die aaslisensie kon ek gister wettig vyf alikreukels uithaal en die week gaan ons swartmossels afhaal. Dertig per persoon. Daleen en Johan gaan ook lisensies uitneem, dan kan ons groot gaan. ‘n Kaapse fisant het nesgemaak onder die melkhoutboom hier in die agtertuin en sit en broei op nege eiers. ‘n Skilpadwyfie is besig om eiers te lê hier onder tussen die agapantusse en spekbome langs die gastekamer en waag jong mannetjies om haar te steur is sy op haar agtervoete. Ek het eers gedog dis onfatsoenlike liefdemaak besigheid wat hier onder ons neus plaasvind, maar toe kom ek agter die kap van die byl. Ons mis ons vriende daar bo. Sien uit daarna om hul stories te hoor en fotos te sien, van die jakarandas en lang tafel kuiers. Gelukkig kom baie binnekort kuier. Het hierdie week die groentebeddens skoongemaak en nuwe plantjies ingesit. En toe ek die rooi spinasie uittrek is dit al die tyd beet. ‘n Hele plaat, met vyf van hulle wat so rondom ‘n kilogram weeg. So ek lag vir myself en saam met Johan en die mense om ons. Oom Pierrie en tannie Martie kom sê hallo, Marius en Elske kom drink koffie, Jolanda ‘n gin, met Vanessa gaan eet ons mooi kos op Stilbaai, ons loop elke dag die omtrent hele dorp se mense erens in die strate raak. Vanoggend bring Kobus van hier skuins voor twee dosyn hoendereiers wat Gawie, twee huise aan in die straat, van hulle plaas af gebring het. Die vyf henne lê elkeen twee eiers ‘n dag. Ek gaan leen by Kobie langsaan ‘n muffinplaat en Johan bak eiers en kaas in hambakkies. So ‘n dag op ‘n plaas in Afrika vat aan ‘n mens.

Leave a comment