Dagboek: Sondag, 2 Desember 2018

Ons eet pastei hierdie kersfees. Grysbok. Want daar is omtrent nie ‘n malva of agapantusblom in die voortuin oor nie. Ai dan onthou mens kersfees is ‘n tyd van vrede en liefde. En mens moet jou naaste nog liefhê ook. So die grysbok is veilig vir nog ‘n jaar. Donderdagaand sit ons aan saam met 1 500 mense aan ‘n vredestafel in Rooipitjiestraat in Melkhoutfontein net buite Stilbaai. Die wind waai koud oor die vlakte, Johan, Daleen en Vanessa is toegedraai in jakkies, die pastoor en burgemeester praat mooi, ‘n sepiestêr uit Suidooster sê mense moet gelukkig wees met hul lewe hier in Stilbaai, die meisies en ‘n paar fopdossers en een baie vrolike ou tannie is gaande oor die celebrity. Die rieldansers van Barrydale laat die stof staan en maak musiek op verfblikke. Die son sak en vrede hang tussen die vlaggies en in mense se samesyn. Vrydagmiddag dek ons nog ‘n lang tafel en ek bak en ek kook en maak mooi, ‘n dankie sê piekniek vir die mense hier van Voëlkliplaan. Inverroche met swartbessies, aarbeie, kaneelstok en pomeloskil het nog nooit so lekker geproe nie. Woensdag is ons brug oor om Johan se nuwe fiets op Riversdal te gaan haal. Stywe broek en helmet en al. Soggens so rondom ses gaan swem ons. Anthony het kom seker maak die tuin is hoe hy dit beplan het. Hy is een baie tevrede landskapper! Die vonkel is op ys, gaan nou-nou vis eet by Lapskuit. Jongensfontein is gereed, die huise en dakke en geute is skoon, die grasperke netjies, die strandpaaitjies met nuwe klippies gegooi en vasgerol, drie pikkewyne het ‘n groot dek, almal se hare is geklits, die boude gemarineer in die yskas, die koekblikke vol. Nou moet die kinders en die kleinkinders en julle net kom kuier.

Leave a comment