Dagboek: Sondag, 9 Desember 2018

Die dag breek, dis mooi en somer lekker. Cody, Petrick se frenchie, sit en kyk vir die seemeeue wat verby vlieg, ek koffie nog in die bed. Johan en Petrick is elkeen met ‘n fiets ‘n rigting in.  Die vakansie is in volle gang, elke aand meer huise se ligte wat brand, braaivleisvure, die klank van stemme wat lag en gesels saam met die breuk van die branders hoor mens ver, sagte goed op die oog op die strand, aan die swem, draf, fietsry, visvang. PW nooi ons vir ‘n glas wyn in die karavaanpark terwyl hy potjie maak. Ja en ons tel ons seëninge, tel hul een vir een. Dinsdag is ons weer oor die brug, oor droëvlakte, die keer stad toe. Mosselbaai en Hartenbos toe. Krismis shopping. Na drie minute in die mol trek my keel toe, ek gryp gammone en soutvleis en kerrievis, en is reg vir terugry. Dis familietyd. Petrick kuier vir die week, hy’t kom voor-vakansie uitrus. Petrus en Annarina het die familiehuis kom regkry vir die vakansie, Ma Petro ry saam. Eskom is af, en ek gooi vining twee hoenders op die weber. Die moppie locals sien mekaar so tussendeur vir ‘n vinnige wyntjie, of by ons of by Daleen. Hier bo oor die bult het twee kraanvoëls vir ‘n paar weke in ‘n koringland op ‘n nes gesit. Die kuikens het die week uitgebroei en hulle loop langbeen en soek krieke in die stoppelland. Nou die dag loop ons ons eie fisant en haar nege kleintjies hier voor om die draai raak, die kleintjies kan al amper vlieg. Komende week lê ons in, boontjies, en peppers, artisjokke en eiervrug. Wag hier’s die eerste fietsryer nou terug, laat ek nog koffie gaan maak. Kody wag hoeka vir sy oggendstap.

Leave a comment