
Van net na vyf is die bure besig om met ‘n weermag opgeboude karre, stoele en koelerbokse en honde en sambrele aan te ry poele toe. Hulle gaan braai. Dit lyk of jy vir ‘n troue regmaak sê Johan toe ek netnou pomelo skywe in die oond druk. Kersfeestyd is mos maar so bietjie soos troue hou, mens gaan meestal oorboord. Die Uysse en die Louws en die Barnards is oppad en Johan vee onder die melkhoutbome vir ‘n langtafelkuier. Van al die weke in die jaar besluit die boom mos hierdie is die beste tyd om swart bessies neer te stort. En die voëls eet en skyt heerlik saam. Ek hoop Yolanda en die Kanadees stap later oor vir ‘n g&t. Hier is nie ‘n Woolworths op Jongensfontein nie. Ons moet aan ander maniere dink vir kersgeskenke. Vir Karla, Lea en Anna, my suster se drie, plant ek toe ‘n groente en blommetjietuin oorkant by die familiehuis. Vir Anneke en Sarienne, my broer se twee, bak ek ‘n spinasie olyf en feta quiche en gaan gee dit vroegoggend af onder by die karavaanpark. Cody, Petrick se enigste, vat ons vir ‘n vroegoggend swem op die sandstrand en dan nog ‘n lang stappie. Johan en ek gaan mekaar bederf vroeg Januarie met ‘n middagete by die Albertinia Hotel. Ma Petro stuur pasteie, beskuit en koekies vir Afrika. Jongensfontein bars uit sy nate, almal is nog vars en vrolik, dis vroeg in die vakansie. Daar lê ‘n opwindende week voor, Daleen is besig om haar bra’s bymekaar te kry, ons gaan vir Arno Carstens by Inverroche luister. Coco carissa en al.





