Dagboek: Sondag, 13 Januarie 2019

Ek wil hê jy moet saamsing as musiek begin speel. Sing Karin Zoid vir haar seun. En het ons gesing en gelag en vuur gemaak en konsert gehou en gedans op die familiehuis se stoep tot laatnag. Derick, my broer se seun, en sy vrou Emma kuier hier vir die week, ek kan sien hoe gelukkig hulle is om met die funny dress uncles and peculiar aunts te kuier. ‘n Laaste aand van Desember vakansie samesyn op Jongens. Marianne en Lizelle gaan vandag terug. Petrick en Marc môre. Dit was ‘n moeilike aand. Ek het op my eie in die maanlig in Fonteinsingel op en af gestap en groot vrae gevra, en my longe leeggemaak. Die see is hoog, baie hoog en het gistermiddag ‘n jong vrou se lewe van die rotse by die swempoel geneem. Dit maak mens stil, en verlate en daar is ‘n familie wat met hierdie fratsoomblik moet saamleef. Nou rol die branders rustig uit op die rotse, die son bak vroegdag, die lewe gaan voort. Hierdie week het die sosiale krane op die werf behoorlik oopgedraai, te veel om almal op te noem.  Erens het die wynpyn my gevang. So kom ons min oor die brug, dit is te besig hier. Darem eenkeer onderdeur die brug gery met die girls se boot. Ma Petro het hier kom verjaar, en dit was so so lekker om dit met haar te deel. Wag ek moet klaarmaak, Andre vat ons op in die rivier tot heelbo vanoggend, gaan in die poel swem en dan later visbraai. Die lewe is mooi hier. Maar vanoggend is dit swaar om saam te sing, my hart is seer.

Leave a comment