
Uiteindelik het ons wildsvleis gemaak. Johan het gaan balle rol, en André en Daleen het kom saamkook. Herfskos, die son draai. Waterblomme en spekboompot, wildspastei, kwepers in steranys en kaneel en Inverroche likeur. Maar nee dit is nie die grysbok hier in die straat wat in die pot beland het nie, dié staan steeds pronkerig en kou, ek dink hy het homself ingeskryf vir Riversdal se Landbouskou. Dié wildsvleis het José en Charleen in jagtyd doer in Vaalwater se wêreld verwerk en met die poskar Jongens toe gestuur. Was dit ‘n rooi besigheid hierdie week. Johan moes iets rooi aantrek vir die balle Woensdag, ons ry die dorp plat en kry niks. Tol staan hier voor op ‘n leer en verf ‘n yskas rooi vir Antoinette. Ek stel voor ons vat ‘n wit hemp en vra dat hulle dit rooi spuit. Kry toe uiteindelik ‘n rooi lint by Knijpers Kreatief en bind dit om sy hoed. Ek het stadig by die rolbalbaan verby gery, dis rooi en wit net waar jy kyk, met rooi harte teen die klubvensters. Ry by die golfbaan verby en dis ook ‘n rooi en wit besigheid. By die tennisbaan het hulle groen gegaan. Die noemnoems (natalse pruim) is rooi, ek pluk langsaan in oorlede oom Koos se tuin en oorkant in Kobus se tuin, en maak jellie vir eendag se appeltert. Anna sing, die dag is mooi, gaan nou nou ‘n vuur opsteek.
