
Hier kom die bure nou terug van hul ontbyt by die poele. Die dorp raak stil, die huise is gesluit, stoepstoele, tafels en braaidromme weggepak. Tot volgende keer. Almal is op sodawater en komkommerskywe. Nou kom die vissermanne. En die afgetreedes staan die karavaanpark vol. Hulle dryf laat middae in die poele. Joe en ek het weer kantoor oopgemaak, dis salarisverhogings en terugvoer oor die betekenisvolheid van oorerflike faktore en depressie in die lewe van Ingrid Jonker. Ja, sê Petrick, nou is die vakansie verby en Ouboet lê weer in. Met ‘n boek, tot laat oggend en vroegaand. En deur die dag pruim, appelkoos, perske en gemmer blatjang in flesse. Visaftreksel van die vakansie se kabeljoukoppe. Boontjiesop. Die herfs kom nader en mens moet voorbereid wees. Hier is hoeka ‘n springbokboud in die vrieskas. En ek het ‘n voël hoor fluit Kulula bring die week vriende uit die noode. Joe doen vierkamp, hy ry fiets, dan stap ons en dan swem ons, Maandae, Woensdae en Saterdae rol hy balle. Teen Dinsdagmiddag was die diet verby, so hier gaat ons alweer. En nou gaan ons behoorlik oor die brug. Stables toe vir pizzas saam met Derick en Emma, oornag kuier op die eiland by Groot Brak met Ivan en Mpho, vandag al langs die kus af met die vroue af in die straat vir ‘n bord boerekos erens langs die pad by Boggomsbaai. Dalk klim ek die week saam met Daleen in die kar en gaan koop olyfbome in Garcia Pas. Simon bel en vertel dit reën lekker in Pretoria, ons tuin is lowergroen, hy kyk mooi daarna. My hart mis ‘n klop, daar is ‘n wêreld van ons buite hierdie fontein, en eendag gaan ons weer oor die brug ry en daar ‘n draai maak.

