
Die week is daar behoorlik gepluk. Dis springgety en die poele is laag soos lanklaas, ek en die van Wyks en hul vierpotige Maja het deurgeswem en swartmossels gepluk terwyl Basil ons van die rotse af uit volle bors blaffend aanmoedig. Mossels gekook in visaftreksel en witwyn en knoffel. Heerlike besigheid. Vrydagaand het Christina en Gerrie en die van Wyks op Stilbaai weer ‘n pot swartmossels op die tafel gehad, met nog ander visskulp in botter en knoffel. Donderdag die lorrie gevat en gaan hanepoot druiwe pluk by Jakkalsvlei. Ons het gedink ons gaan so agt kilogram pluk, toe ons weeg is dit 37.8 kg! Die eerste appel en druiweblatjang in KWV brandewyn en balsamiese asyn is reeds in die flesse. En die hele straat eet natuurlik heel naweek druiwe. En ja die grysbok besluit as almal pluk dan pluk hy ook. Hy het die nuwe baba melkhoutboom langs die huis ontdek so tussen die malva en spekboometery deur, en kou heerlik aan die sagte blare. Ek is alweer besig om pasteiresepte te google. Johan het ‘n ordentlike draad om daai boompie gespan, tot die department korrektiewe dienste is ingenome toe hulle vanoggend hul weeklikse besoek in die straat kom aflê. Die herfs is almeer in die lug, en die veld verander. Die Haemanthus coccineus (verfkwaslelie) en Brunsvigia orientalis (kandelaarlelie) steek hul bloedrooi blomme uit. Die Leonotis leonurus (wilde dagga) in ons tuin dra ritse oranje blomme ‘n tweede rondte vandat ons hier tuinmaak. Ek moet klaar skryf, Johan is oppad terug met sy fiets en dan gaan ons swem en aan met die groot kook. Ma Petro kom Sondamiddagete kuier en die werf is in rep en roer. Kobie van langsaan gee ‘n pampoentert oor die muur aan, die beet is gebak en ook die noemnoem (natalse pruim) wortel piesang en neut koek. Die week wat kom lê ons korrelkonfyt in, as julle naby is kom kook saam.









