Gisteraand kuier ons voor teen die see in Stilbaai by Philippus en Herman, en ek begin weer met my ‘ek gaan drie stories vertel’. En ek moes vinnig vertel voor ek die drie vergeet en drie nuwes moet uitdink. Soos Karin graag vertel van ons saamkuier een aand baie laat in Stockholm. Die kuier gisteraand was ‘n heerlike besigheid. Daleen skryf Philippus hulle is hier van Greyton af, hulle kook en hulle nooi ons en ons vriende vir ete. Vrydag het Kulula vir Anthony en Monique gebring, ons vier ry vroegaand oor Stilbaai toe vir die ete. Die ding is ons het die gashere nog nooit ontmoet nie, wel nie regtig nie, en die adres is die blou huis. So ons stop by die blou huis, die agterdeur staan oop, maar daar is nie ‘n krummel kos in sig nie. Klop, iemand kom aan en sê nee dis Andre wat hier bly. En sy vrou. Ons klim terug in die kar, bos kruie en wyn en kaas en al. En ons lag. Johan bel vir Daleen en sê hier is net straight mense hier. Natuurlik is daar baie blou huise in die dorp. Nou kyk daai twee kan kook, daar was ‘n hoender storie in filo, en ‘n lamsboud en aartappels en oondbeet en boontjies in ‘n sous en nog goeters. Antoinette is ook die naweek hier van Greyton af. Daleen moes ‘n keer of twee buite gaan asem haal tussen al die lag deur. Gister probeer ons heeldag registreer in die gemeenskapsaal. Oppad Inverroche toe, die ry is te lank. Dis Stilbaai, dis ‘n stadige besigheid. Oppad Lapskyt toe vir vis en chips, die ry is te lank. Ons sal terugkom later. Nee sê die span van die DA daai twee gaan nie vandag terugkom nie, die lunch gaan te lekker wees. Vanoggend toe die kerkklok lui, sit ons in die saal, heel voor, reg om te registreer. Die melkhoutboom is oortrek met wit blommetjies, massas van hulle, en die besigheid het ‘n onaardige reuk. So ons ruik maar eerder see se kant toe. En die voëls is in die paradys. Kaapse suikervoëls, groot rooibandsuikbekkies, en die slangverklikkers hou ons op hoogte van wat aangaan. Die see lê en bak in die oggendson, die gety trek terug, ons is oppad rotspoel toe, swemskoene en al. Dan gaan Anthony en Monique ‘n storm los braai. As julle in die nabyheid is, kom oor.



