Dagboek: Sondag, 24 Maart 2019

Die springbokboud en ‘n heel pampoen en kwepers in KWV noble late harvest prut in die oond. Dis ons laaste Sondag van hierdie sabbatsjaar en ons gaan vandag saam met die familie op die familiehuis se stoep kuier. Die vuur gaan brand en die kinders gaan in die straat speel en ons gaan in die son sit en wyn drink. Hierdie week het ons voluit gegaan. Georg en Tanya en Dirk en Louise en Anton het uit die noorde kom langnaweek kuier. En Maryna en Gerhard en Micaeli het in die melkhout kom sit. Michaeli se afrikaanse woord van dag was granaat. En ons het gevis en gedans en gebraai en gestraatmark en gegin en ge-eskom. Daleen het ‘n steenkoolbrood gebring, en ons het musiek gemaak. Ja daar is ‘n ding in my oog, so ‘n traan of twee wat heeltyd loop. Ons HET gesabbat en ons huis en tuin is volledig ingewy. En geseën. Goed gaan, tot volgende keer.

Leave a comment