Ses maande later en ons kom elke tweede maande vir twee weke see toe. Die herinneringe aan die sabatsjaar is soet, en elke keer hier is weer soos ‘n mini-sabat. Die afgelope twee weke het ons kom skoffel en spit, bome snoei en die groentetuin beplant met kool, spinasie, eiervrugte, rissies, uie, koljander, en vele meer vir die kersfees vakansie. Die kaapse fisant het weer 8 kleintjies uitgebroei en skillie homopus en sy maats help babas oppas. Die groot hoogtepunt was die Fourie familie samesyn hierdie naweek. Eerste keer in omtrent 25 jaar dat so ‘n groot klomp van ons saamkuier. Ma Petro, tannie Susan en tannie Magdaleen. Petra, Petrick, Annarina, Morne, Antoinette, Annedel en ek. Lewensmaats en die nuwe generasie. Spaas wat ons almal help grootmaak het het en saam met tannie Susan afgetree het, het met arms vol melktert en aartappelslaai hier aangekom. Almal het met bakke kos gekom, net soos dit in ons kinderjare was. Van die niggies en neefs het Chrisma en Du Toit op die whatsapp groep saamgekuier. Die Melkboomspan het heel naweek help kosmaak, skoonmaak, en saamkuier. Van high tea tot laataandbraai. Baie gelag, baie stories ingehaal, soveel liefde en omgee. Tot volgende keer.
