
Maandae is dit huis- en tuindag by die see. En vandag het Rose en Ricardo kom help. Net na sewe vanoggend maak ek broodjies en ‘n pot tee, Rose kuier saam in die kombuis en vra Hollandse delft toe sy die pot op die tafel sien. Ek het September terugggekom van Amsterdam vertel sy, dis die derde keer wat ek daar by ‘n vriend gaan kuier het. Ons drink tee en koffie en sy vra hoe maak Gertie gewoonlik as sy die vensters was. Ek gaan haal die leer en die emmers en goeters en sy begin. Gertie kon nie vandag kom nie, sy moes kliniek en munisipaliteit toe, haar man is laas Donderdagnag oorlede en hulle moet vandag begin graf grawe. Rose vertel hoe die kos gemaak word vir Saterdag se begrafnis. Gertie soek nog blomme. Ricardo en Johan pak die tuin aan, die Fiat staan in die straat en vragte vygies en afgesaagte takke word opgelaai en bult uitgery. Ricardo het ‘n grootlorrie lisensie en wil graag ry. Hy woon in Albertinia, hy is ‘n kunstenaar in die tuin, hy vertel hy het al ‘n paar keer hier gesnoei en geknip as ons in die noorde is. Ons maak slaai en boereworsrolle en daar word lekker gekuier onder die melkhoutbome. In die straat vertel die bure van die groot vet pofadder wat hier voor in die tuin woon (wel gewoon het). Die huis is skoon, die tuin mooi, ons rûe is gedaan, Johan lê skuins voor die tv, ek drink nog ‘n ietsie koel. Die wind waai die hel uit die aarde uit. Die lewe is mooi, hier by die see.