Author: eduardfourie
A deconstructed pavlova

Room with a view

Women in Trees: Alta

Women in Trees: Tanya Uys

Under the milkwood tree, Sunday 16 December 2018
Dagboek: Sondag, 16 Desember 2018

Van net na vyf is die bure besig om met ‘n weermag opgeboude karre, stoele en koelerbokse en honde en sambrele aan te ry poele toe. Hulle gaan braai. Dit lyk of jy vir ‘n troue regmaak sê Johan toe ek netnou pomelo skywe in die oond druk. Kersfeestyd is mos maar so bietjie soos troue hou, mens gaan meestal oorboord. Die Uysse en die Louws en die Barnards is oppad en Johan vee onder die melkhoutbome vir ‘n langtafelkuier. Van al die weke in die jaar besluit die boom mos hierdie is die beste tyd om swart bessies neer te stort. En die voëls eet en skyt heerlik saam. Ek hoop Yolanda en die Kanadees stap later oor vir ‘n g&t. Hier is nie ‘n Woolworths op Jongensfontein nie. Ons moet aan ander maniere dink vir kersgeskenke. Vir Karla, Lea en Anna, my suster se drie, plant ek toe ‘n groente en blommetjietuin oorkant by die familiehuis. Vir Anneke en Sarienne, my broer se twee, bak ek ‘n spinasie olyf en feta quiche en gaan gee dit vroegoggend af onder by die karavaanpark. Cody, Petrick se enigste, vat ons vir ‘n vroegoggend swem op die sandstrand en dan nog ‘n lang stappie. Johan en ek gaan mekaar bederf vroeg Januarie met ‘n middagete by die Albertinia Hotel. Ma Petro stuur pasteie, beskuit en koekies vir Afrika. Jongensfontein bars uit sy nate, almal is nog vars en vrolik, dis vroeg in die vakansie. Daar lê ‘n opwindende week voor, Daleen is besig om haar bra’s bymekaar te kry, ons gaan vir Arno Carstens by Inverroche luister. Coco carissa en al.
Voëlkliplaan: Sunrise and sunset

Picnic with the neighbours

Dagboek: Sondag, 9 Desember 2018

Die dag breek, dis mooi en somer lekker. Cody, Petrick se frenchie, sit en kyk vir die seemeeue wat verby vlieg, ek koffie nog in die bed. Johan en Petrick is elkeen met ‘n fiets ‘n rigting in. Die vakansie is in volle gang, elke aand meer huise se ligte wat brand, braaivleisvure, die klank van stemme wat lag en gesels saam met die breuk van die branders hoor mens ver, sagte goed op die oog op die strand, aan die swem, draf, fietsry, visvang. PW nooi ons vir ‘n glas wyn in die karavaanpark terwyl hy potjie maak. Ja en ons tel ons seëninge, tel hul een vir een. Dinsdag is ons weer oor die brug, oor droëvlakte, die keer stad toe. Mosselbaai en Hartenbos toe. Krismis shopping. Na drie minute in die mol trek my keel toe, ek gryp gammone en soutvleis en kerrievis, en is reg vir terugry. Dis familietyd. Petrick kuier vir die week, hy’t kom voor-vakansie uitrus. Petrus en Annarina het die familiehuis kom regkry vir die vakansie, Ma Petro ry saam. Eskom is af, en ek gooi vining twee hoenders op die weber. Die moppie locals sien mekaar so tussendeur vir ‘n vinnige wyntjie, of by ons of by Daleen. Hier bo oor die bult het twee kraanvoëls vir ‘n paar weke in ‘n koringland op ‘n nes gesit. Die kuikens het die week uitgebroei en hulle loop langbeen en soek krieke in die stoppelland. Nou die dag loop ons ons eie fisant en haar nege kleintjies hier voor om die draai raak, die kleintjies kan al amper vlieg. Komende week lê ons in, boontjies, en peppers, artisjokke en eiervrug. Wag hier’s die eerste fietsryer nou terug, laat ek nog koffie gaan maak. Kody wag hoeka vir sy oggendstap.




































