
Ek het al op die dak gaan sit. En bo in die melkhoutboom. Maar die wind wil my nerens heen waai nie. Moet iets te doen hê met die kilogram of vyf wat bygekom het in die vier weke hier by die see. Die lewensmaat is met sy maandeinddinge besig, ek moet myself besig hou. Het ‘n verslag of twee vroegoggend geskryf, aandete begin saamslaan, by die sibbe in die karavaanpark en oorkant by die familiehuis gaan kuier, roosterkoek en peppermintkrisptert later. Nou het ek maar die lorrie gewas want in hierdie geweste kan mens nog met n vuil mercedes Sondag kerk toe ry, almal bid vir reën, maar in ‘n vuil Fiat lorrie op ‘n Sondag Spar toe om koerante te koop, nee dit kan nie. En die wind waai. Evert langsaan begin hout kap en ek weet hy gaan nou nou vuur opsteek, ek hang oor die muur en tref ‘n reeling dat as die wind die kole die kant toe waai gaan ek vinnig braai en sal hom laat weet wanneer die kole weer sy kant toe waai. Hy se hoeka eergister die wind het ‘n paar stukke van sy huis deur die nag weggewaai maar hulle het gelukkig almal weer teruggekom. As ek so by die venster uitkyk is die dorp doodstil. Almal is in Mosselbaai, dis Afrikaans is groot by die see. Demi en Steve gaan sing, hulle is blykbaar vandag se Ge en Min Shaw. En ook Snotkop. Daar oorkant by die familiehuis loop ‘n skilpad al agter my suster aan as sy wasgoed ophang en Evert sê hier agter in sy groentetuin het ‘n skilpad al sy spanspekblomme netjies kom afvreet. Dis amper vyf uur, ek neem aan die maandeinddinge maak nou klaar. En ek het nog nie eers oor die wind gekla nie.































