
In die laat tagtigers gaan stap ons saam met Amanda in die Knysna bos. Haar ma was daardie tyd besig om Moerbeibos te skryf en het gereël dat ons Bos toe kan gaan. Ben, Marné en ek was reg vir die storie, Paul Revere en Camel Lights en sakkies vir die stompies ingepak met 250 ml sjerrie en 20 (of so) blokkies toiletpapier per persoon per dag, blikkies boontjies en toppers soja, en ‘n brandewyntjie natuurlik. Ek het heelpad omgekyk, vorentoe, links regs, op in die bome … te veel laataand stories van die olifante gehoor. As daar ‘n kraak gehoor is soek ons almal dadelik die dikste boomstam vir klim. Die week is ek en Johan Gootvadersbosch toe vir ‘n paar dae. In die Langeberge tussen Heidelberg en Barrydale. My grootwordwêreld. Fonteintjiebos. Bosbokrif. Melkhoutpad. Grysboksirkel. Stinkhoutsirkel. Saffraandraai. Ons het gestap, tien kilometers in die inheemse woud en 15 kilometers in die fynbos teen die hange van die berg. Dit is beeldskoon. En na die brande wat November daar gewoed het, begin nuwe groei oral kop uitsteek. Die keer was ek nie bang vir die olifante nie, maar ai die slange. En die trop bobbejane. Het weer heeltyd oral gekyk. Oppad soheentoe by Ma op Melkboom gekuier en grenadellas uit hul tuin geeet, en vir skoolvriendin Elzette ‘n lekker vet druk gaan gee op die dorp. Oppad terug stop ons by die Heidelberg Landbouskou. Nou kyk, Johan en ek het al geskou van Bela Bela tot in Fiksburg, en elke keer gaan staan hy tussen die trekkers en ander implemente en ek neem ‘n foto. Die tuin hier op Jongens groei nou so wild ons het met ander oë na die saaikaste en dorsmasjiene gekyk. Die eiervrugte moet hoeka hierdie week gepluk word. Ons het deur die perdestalle en Jersey koeistalle en merinokrale gestap. Daar hang ‘n bord met my pa se naam by die skaapkrale, hy het dit doer die jare gebou. Koffie gedrink onder die afdak daar regs van die paviljoen terwyl die omroeper die perdekarbestuurders vra om om te draai en voort te gaan op ‘n pronkdraf. Agter ons in die skousaal eet die vroue ontbyt en daar oorkant staan Andrê Schwartz gereed om op te tree. Ja, sê hy vir die vroue, as mense vra sê vir hulle ek gaan okay wees. Gister rol Johan balle in die semi-finale van die beginnerswedstryd. En ek gaan wens vir tannie Arina geluk met haar verjaardag, en ons kuier soos in ons kinderjare met borde boordensvol op die stoep van hulle huis daar voor op die rotse by die swempoele. Ek en Jako gesels en lag oor ons skooljare en oor vandag se dinge, en daar net agter die rotse spuit ‘n walvis.





































