Dagboek: Sondag, 25 November 2018

Kayaking pictures by Stilbaai Adventures

Die Amerikaners hou danksegging en ‘n groot deel van die wêreld hardloop saam agter Swart Vrydag aan. Hier bly ons op hoogte van die dinge. En kan nie anders as om ook dankseggend terug te kyk nie. Dit is sewe maande sedert ons hier ingetrek het, Vrydag die bakkie en motor Riversdal toe geneem vir nuwe nommerplate, CCC1607 en CCC4161, hulle is nou ook local. Welkom in Stilbaai meneer sê die man van Jacksons toe hy klaar is met die nommerplate. Maandagoggend broei die nege fisantkuikens uit en ons is soos grootouers opgewonde. As die kleintjies met die trappe afneuk sit die ma ‘n keel op, Johan hardloop en vang hulle en sit hulle terug in die agtertuin. Dinsdagoggend ontdek hulle skrop skrop die groentetuin, beet en wortels lê die wêreld vol, toe sit ek ‘n keel op. Laatoggend vat hulle die pad en gaan soek ‘n ander hopenlik vriendeliker groenteboer. Die nes voel leeg. Gisteroggend het die somer uiteindelik hier aangekom. Net na sonop is Karin, Andre, Daleen en ek saam met ‘n aanvallige avontuurman, Eugene, op kayakke by die Stilbaai hawe die see in. Eers om die hawe muur geroei en al langs die kus af tot by Skilpiesbaai. Vandaar oor die baai preekstoel se rigting, agter die groot branders terug, om die riviermond, tot weer by die hawe. Dit was ongelooflik fantasties. Johan moes nog eers die laaste deel van verkoue en griep deurwerk en kon nie saam nie. Vandag is hy weer perdvris en oefen kliphard vir die aksies wat die nuwe week voorlê. As mens nou so roei op die see raak jy mos honger. Ons kuier die res van die dag onder die melkhoutboom, en geniet die somer die son die wyn die lewe. Vanoggend ver gaan stap, Karin is terug Boland toe en ons sit nog bietjie onder die boom. Netnou gaan ons swem.

Dagboek: Sondag, 18 November 2018

’n Griekse besigheid. Daleen dek ‘n langtafel en maak lamsboud. Douw van Lesbos maak slaai en nog ‘n ding met sampioene en asyn en pietersielie. Ons moppie van Jongens maak nagereg. Oom Koos langsaan is laasweek op 90 die lang ewigheid in, ons pluk noemnoems (carissa, Natalse pruim) in sy tuin, maak ‘n stroop, pere in rooiwyn, Ma Petro se kwepers, dik joghurt, ‘n pavlova gedekonstureer. Onse Willie en Pieter uit Gauteng kuier hier, ons kook ons lag ons kyk rugby ons stap ons drie pikkewyn, die wind waai, die lewe gaan aan. Willie sny daai boud. Annie is hier vir ‘n paar dae uit die Karoo, ons koffie en koekies, ons gaan middagete by Ma Petro op Melkboom, Ma se mooi koester kos. Die bakkie word padwaardig getoets op Riversdal, Bloublasie kom was weer die duitste nommer. Roesbruin en groen basilie en nog ‘n plaat eiervrug geplant. Krismis kuiers kom nader. Die fisant sit op haar eiers, daar is ‘n adder erens in die storie, maar ons praat nie daaroor nie. Die lente seisoen loop uit, die walvisse gooi steeds konsert. Somer is oppad.

Dagboek: Sondag, 11 November 2018

Mens kan seker weer allerhande stories oor die wind maak, maar dit daar gelaat. Vrot van die verkoue en die keel is seer. Van te veel son, te veel swem, te veel wyn, te veel lag. Soos Daleen sê gister is ons oor die brug, dorp uit en ‘n sandduin oor. Gaan alikreukels uithaal op Matie se plaas daar doer. Johan het baie trots sy eerste twee alikreuekels van die rotse gepluk en ek een. Barry het die rotsplate gestap en Andrê die diepsee aangepak met ‘n duikbril en snorkel en gesorg vir ‘n lekker pot gemaalde alikreuk saam met Matie se roosterkoek. Daleen en ek het souse gemaak en baie gelag. Maar eers het ons ‘n paar bottels wyn en ‘n braairooster oor die duin gedra, stompe langs die see opgetel en Stilbaai wors op die strand gebraai. Dit was ‘n beeldskone somersdag en die walvisse het op die regte tyd hul ding gedoen. Matie en Andrê het aanhou braai op die stoep van die plaashuis: makriel, en nog wors, en skaaplewer en roosterkoek vir Afrika. Toe die son begin sak vat ons die lorrie terug Jongensfontein toe. Ons mis toe uit op die groot braai wat nog moes kom. Skaaptjops. Hierdie week twee dinge reggekry by die boonste kafee wat ook soort van poskantoor is, ‘n aaslisensie uitgeneem en ‘n adres gekry. Mense kan nou vir ons briewe en rekeninge en bankstate stuur na Voêlkliplaan 25 en hulle bel van die winkel af as die pos daar aankom. Met die aaslisensie kon ek gister wettig vyf alikreukels uithaal en die week gaan ons swartmossels afhaal. Dertig per persoon. Daleen en Johan gaan ook lisensies uitneem, dan kan ons groot gaan. ‘n Kaapse fisant het nesgemaak onder die melkhoutboom hier in die agtertuin en sit en broei op nege eiers. ‘n Skilpadwyfie is besig om eiers te lê hier onder tussen die agapantusse en spekbome langs die gastekamer en waag jong mannetjies om haar te steur is sy op haar agtervoete. Ek het eers gedog dis onfatsoenlike liefdemaak besigheid wat hier onder ons neus plaasvind, maar toe kom ek agter die kap van die byl. Ons mis ons vriende daar bo. Sien uit daarna om hul stories te hoor en fotos te sien, van die jakarandas en lang tafel kuiers. Gelukkig kom baie binnekort kuier. Het hierdie week die groentebeddens skoongemaak en nuwe plantjies ingesit. En toe ek die rooi spinasie uittrek is dit al die tyd beet. ‘n Hele plaat, met vyf van hulle wat so rondom ‘n kilogram weeg. So ek lag vir myself en saam met Johan en die mense om ons. Oom Pierrie en tannie Martie kom sê hallo, Marius en Elske kom drink koffie, Jolanda ‘n gin, met Vanessa gaan eet ons mooi kos op Stilbaai, ons loop elke dag die omtrent hele dorp se mense erens in die strate raak. Vanoggend bring Kobus van hier skuins voor twee dosyn hoendereiers wat Gawie, twee huise aan in die straat, van hulle plaas af gebring het. Die vyf henne lê elkeen twee eiers ‘n dag. Ek gaan leen by Kobie langsaan ‘n muffinplaat en Johan bak eiers en kaas in hambakkies. So ‘n dag op ‘n plaas in Afrika vat aan ‘n mens.

Dagboek: Sondag, 4 November 2018

Hierso praat mens oor die wind. Baie en aanmekaar. Vanggend so net voor sonsopkoms hoor ek hom, die keer uit die weste, trek pantoffels aan, maak koffie, en begin beet kook. Johan google en kry ‘n hoendergereg met baie knoffel, ons druk dit in die oond en Spotify speel Café de Anatolia, most beautiful songs. En voor ons die see die see die see. Dinsdag waai ons vriend hier teen drie uur in die nag die hel uit die aarde uit, die krag is af, ek steek ‘n ketel aan op die gasstoof vir koffie en die kerse brand, maak ‘n nota om Sondag hieroor te skryf. Elroy, Gertie wat vir ons werk, se seun het Vrydagaand sy graad nege bal by Botterkloof, en die duitse auto blink, ons speel chauffeur. Hy’s cool, baie baie cool, cooler as die kar, Gertie kom uit en sê nee die kind kry mos nooit klaar met sy hare nie. Ons ry dorp se kant toe, by ‘n grondpadafrit staan Juné se drie sussies en wag en hardloop vooruit op die sandpad, ouma staan en loer van daar diep in die huis. Die twee sit agter in die kar en ek sê smile vir ‘n foto. Gister moes ons dorp uit. Oor die brug en Inverroche toe. Met Daleen en Antoinette. Daar’s ‘n splinternuwe kreatiewe kolleksie gin op die rak, coca carissa. Sjokolade en bessies, dis heeerlik, met aarbeie en lemoenskil en ginger ale en baie ys en stories en lag. Ons leef hier tussen die elemente sê Johan, snags eet die grysbok die malvablomme, die spekboomblare en die agapantusblomme in die voortuin, ons maak beurte om wag te staan, kan hy nie maar eerder vir die bitobosse gaan nie, dis volop en baie lekker. Naskrif Johan rol voort aan die balle op Stilbaai, laatmiddag, Isobel gaan saam, skop haar skoene uit, sy het op haar dag vir Spoornet gerol. Ja sê hy dis ‘n interessante klomp.

Dagboek: Sondag, 28 Oktober 2018

Die skrif is al van vroegdag aan die muur. Spookfontein. Henning Joubert en sy kitaar maak great musiek by 3 pikkewyne van 12 uur af. Lees ek. Ons skeer, trek ordentlik aan, vat maar die droe vlakte pad, gaan sit tussen die eende en gansdamme by Botterkloof, drink wyn en eet pizza. Dit IS ‘n spookfontein, die see is heeldag weg, heeltemal weg. Digte mis hang laag en al wat jy hoor is die branders.  Heelweek het ons gesnoei en die plante gepaai, daai suidoos van laasnaweek was woes verby. Die son het Maandag deurgebreek, stilte het neergedaal en alles groei weer van voor af. Tannie Marienne Uys van Heidelberg, Lafras se ma, het doerdie jare ‘n boek geskryf, Gaste op my drumpel. Sy moes hierdie week hier gewees, het: Hanno en Karen brul op hulle Harleyl, Maryna kom kuier uit Mosselbaai en lag uit haar maag uit, Marlena en Ian het kom langsaterdagkuier, skoon van die rugby vergeet, seekos gemaak, artisjokke en eiervrug ingele vir krismiskuiers, koljander en pampoenpitpesto, en lang glase koud tussendeur. Ons stap en stap en stap en Johan het begin balle rol maar die mage raak al ronder so met die spys en drank saam. The good life. Maandag diet ons weer. Oor die bult by Vermaaklikheid was veldbrande hierdie week verskriklik erg, ons het energade en gemmerkoekies aangery vir die branderslaners. ‘n Helikopter het noodlottig geval, elf grasdakhuise het afgebrand, alles nou weer onder beheer. Komende Dinsdag kry die kwekery vars kruie en groenteplante. Daleen en ek gaan, soos toe ons jonk was en gecue het vir Wimbledon, oornag in ‘n tent op die brug voor die kwekery. Sy sal ciabatta bak, en ek vat ‘n pot mossels. Daar moet nog baie geplant word, oor ‘n paar weke is dit kersfees. Sien nounet op sosiale media: jammer mense Henning Joubert se konsert is uitgestel tot volgende Sondag.

Dagboek: Sondag, 21 Oktober 2018

Nog ‘n Sondag. Die tweede beweging uit Barcarolle met Anna Netrebko is al wat vannaand die hel van die suidoos kan stilmaak. Met ‘n shiraz viognier, al die kerse en olielampe wat brand. Nasionale tuindag en alles groei teen die wind in, hande vol kappertjies gepluk vir oggendtee. Ma Petro het weer kom kuier.  Die ooms in die straat lê koejawels in, Kobie langsaan verjaar en nooi ons oor, tafel kreun spinasietert appeltert sjokoladekoek met skok, ek vat n bos seldery beetspinasie origanum rocket met n geel strik. Vanessa van skuins hier voor ons kom stel haarself vroeër vanmiddag voor met haar twee dogtertjies en ‘n bottel rooi. Soggens kom die son op oor die see, ons koffie en rekenaar in die bed. Studente kry terugvoer op hul hoofstukke. Die dassies se babies is gebore, uiteindelik, daar is so twintig plus in die skeur in die rooi rotse hier voor. ‘n Nuwe week wag, die wind sal gaan lê.

Dagboek: Sondag, 14 Oktober 2018

Sondagmiddag terugsit en klaviere wat speel danksy spotify, die branders rol en die walvisse doen hul Sondagmiddag simfonie, die kleintjies het mooi geleer hierdie week. Gister het die suidoos die hel uit die aarde gewaai, het op ‘n stadium vir die hemel gevra vir genade vir die plante! Vars vis by Lapskyt gisteraand, lang tafel nuwe oud Stilbaai vriende. Vanoggend windstil ver stap, Sophia se noritake en silwer teepot onder die melkhoutbome uitgesit, Ma Petro het kom inloer. Radysse en gesiggies geplant vir krismis, deel gerwe beetspinasie seldery franse pietersielie uit vir die mense in die straat. Braaivleis vandag. Ons haal asem, diep in en uit, drink oor die naweek wyn af in die straat by entoesiastiese wynmakers, hul eerste Shiraz Swart Tobie Jongensfontein 2016, stap met n flits en gaan kuier onder langs die see by Drie Pikkewyne. Kom terug en daar hang ‘n sakkie avokadopere aan die deur.