Dagboek: Sondag, 24 Februarie 2019

Die week is daar behoorlik gepluk. Dis springgety en die poele is laag soos lanklaas, ek en die van Wyks en hul vierpotige Maja het deurgeswem en swartmossels gepluk terwyl Basil ons van die rotse af uit volle bors blaffend aanmoedig. Mossels gekook in visaftreksel en witwyn en knoffel.  Heerlike besigheid. Vrydagaand het Christina en Gerrie en die van Wyks op Stilbaai weer ‘n pot swartmossels op die tafel gehad, met nog ander visskulp in botter en knoffel. Donderdag die lorrie gevat en gaan hanepoot druiwe pluk by Jakkalsvlei. Ons het gedink ons gaan so agt kilogram pluk, toe ons weeg is dit 37.8 kg! Die eerste appel en druiweblatjang in KWV brandewyn en balsamiese asyn is reeds in die flesse. En die hele straat eet natuurlik heel naweek druiwe. En ja die grysbok besluit as almal pluk dan pluk hy ook. Hy het die nuwe baba melkhoutboom langs die huis ontdek so tussen die malva en spekboometery deur, en kou heerlik aan die sagte blare. Ek is alweer besig om pasteiresepte te google. Johan het ‘n ordentlike draad om daai boompie gespan, tot die department korrektiewe dienste is ingenome toe hulle vanoggend hul weeklikse besoek in die straat kom aflê. Die herfs is almeer in die lug, en die veld verander. Die Haemanthus coccineus (verfkwaslelie) en Brunsvigia orientalis (kandelaarlelie) steek hul bloedrooi blomme uit. Die Leonotis leonurus (wilde dagga) in ons tuin dra ritse oranje blomme ‘n tweede rondte vandat ons hier tuinmaak. Ek moet klaar skryf, Johan is oppad terug met sy fiets en dan gaan ons swem en aan met die groot kook. Ma Petro kom Sondamiddagete kuier en die werf is in rep en roer. Kobie van langsaan gee ‘n pampoentert oor die muur aan, die beet is gebak en ook die noemnoem (natalse pruim) wortel piesang en neut koek. Die week wat kom lê ons korrelkonfyt in, as julle naby is kom kook saam.

Dagboek: Sondag, 17 Februarie 2019

Uiteindelik het ons wildsvleis gemaak. Johan het gaan balle rol, en André en Daleen het kom saamkook. Herfskos, die son draai. Waterblomme en spekboompot, wildspastei, kwepers in steranys en kaneel en Inverroche likeur. Maar nee dit is nie die grysbok hier in die straat wat in die pot beland het nie, dié staan steeds pronkerig en kou, ek dink hy het homself ingeskryf vir Riversdal se Landbouskou. Dié wildsvleis het José en Charleen in jagtyd doer in Vaalwater se wêreld verwerk en met die poskar Jongens toe gestuur. Was dit ‘n rooi besigheid hierdie week. Johan moes iets rooi aantrek vir die balle Woensdag, ons ry die dorp plat en kry niks. Tol staan hier voor op ‘n leer en verf ‘n yskas rooi vir Antoinette. Ek stel voor ons vat ‘n wit hemp en vra dat hulle dit rooi spuit. Kry toe uiteindelik ‘n rooi lint by Knijpers Kreatief en bind dit om sy hoed. Ek het stadig by die rolbalbaan verby gery, dis rooi en wit net waar jy kyk, met rooi harte teen die klubvensters. Ry by die golfbaan verby en dis ook ‘n rooi en wit besigheid. By die tennisbaan het hulle groen gegaan. Die noemnoems (natalse pruim) is rooi, ek pluk langsaan in oorlede oom Koos se tuin en oorkant in Kobus se tuin, en maak jellie vir eendag se appeltert. Anna sing, die dag is mooi, gaan nou nou ‘n vuur opsteek.     

Dagboek: Sondag, 10 Februarie 2019

In die laat tagtigers gaan stap ons saam met Amanda in die Knysna bos. Haar ma was daardie tyd besig om Moerbeibos te skryf en het gereël dat ons Bos toe kan gaan. Ben, Marné en ek was reg vir die storie, Paul Revere en Camel Lights en sakkies vir die stompies ingepak met 250 ml sjerrie en 20 (of so) blokkies toiletpapier per persoon per dag, blikkies boontjies en toppers soja, en ‘n brandewyntjie natuurlik. Ek het heelpad omgekyk, vorentoe, links regs, op in die bome … te veel laataand stories van die olifante gehoor. As daar ‘n kraak gehoor is soek ons almal dadelik die dikste boomstam vir klim. Die week is ek en Johan Gootvadersbosch toe vir ‘n paar dae. In die Langeberge tussen Heidelberg en Barrydale. My grootwordwêreld. Fonteintjiebos. Bosbokrif. Melkhoutpad. Grysboksirkel. Stinkhoutsirkel. Saffraandraai. Ons het gestap, tien kilometers in die inheemse woud en 15 kilometers in die fynbos teen die hange van die berg. Dit is beeldskoon. En na die brande wat November daar gewoed het, begin nuwe groei oral kop uitsteek. Die keer was ek nie bang vir die olifante nie, maar ai die slange. En die trop bobbejane. Het weer heeltyd oral gekyk. Oppad soheentoe by Ma op Melkboom gekuier en grenadellas uit hul tuin geeet, en vir skoolvriendin Elzette ‘n lekker vet druk gaan gee op die dorp. Oppad terug stop ons by die Heidelberg Landbouskou. Nou kyk, Johan en ek het al geskou van Bela Bela tot in Fiksburg, en elke keer gaan staan hy tussen die trekkers en ander implemente en ek neem ‘n foto. Die tuin hier op Jongens groei nou so wild ons het met ander oë na die saaikaste en dorsmasjiene gekyk. Die eiervrugte moet hoeka hierdie week gepluk word. Ons het deur die perdestalle en Jersey koeistalle en merinokrale gestap. Daar hang ‘n bord met my pa se naam by die skaapkrale, hy het dit doer die jare gebou. Koffie gedrink onder die afdak daar regs van die paviljoen terwyl die omroeper die perdekarbestuurders vra om om te draai en voort te gaan op ‘n pronkdraf. Agter ons in die skousaal eet die vroue ontbyt en daar oorkant staan Andrê Schwartz gereed om op te tree. Ja, sê hy vir die vroue, as mense vra sê vir hulle ek gaan okay wees. Gister rol Johan balle in die semi-finale van die beginnerswedstryd. En ek gaan wens vir tannie Arina geluk met haar verjaardag, en ons kuier soos in ons kinderjare met borde boordensvol op die stoep van hulle huis daar voor op die rotse by die swempoele. Ek en Jako gesels en lag oor ons skooljare en oor vandag se dinge, en daar net agter die rotse spuit ‘n walvis.

Dagboek: Sondag, 3 Februarie 2019

In die negentigs ryloop Nataniël van Pretoria af deur die Vrystaat en Karoo om op Stellenbosch met John te gaan dans. En snaakse dinge gebeur langs die pad. Soos die oom op sy plaas wat met ‘n tuinslang in die aarde in blaas in die hoop om ‘n skeur oop te blaas tot by die see vir sy ark wat klaar gebou daar op die plaas staan. Laasnag bring John Travolta ons met die bakkie terug huis toe van Stilbaai. Die musiek het gespeel en hy het hoog geskop saam met Daleen en Christina en Marie en Theresa daar in Hesse Straat in Stilbaai. Daai hoogskop was nie sommer so nie, hy het ‘n goeie dag met die balle gehad. Enkelsspel gewen. Een en twintig dertien. Gisteroggend was hier ‘n behoorlike storm op die see, donderweer blits en swaar reën. Toe gaan pannekoek en koffie ons by Allegaartjie. En net soos in die flieks toe ons klein was, Sondag in September en Winter van veertien Julie toe verliefdes in stadige aksie na mekaar toe beweeg, sien ek haar deur die venster en ons herken mekaar en altwee stap stadig en omhelsend nader. Elna. Sy is daar om ‘n haar jongste dogter se kombuistee by te woon, en stel my voor aan haar ander twee dogters en hulle kleintjies. Ontmoet my eerste kêrel sê sy. Ons was jonk gewees en dit was somer en ons het die paadjie seelangs tussen Jongensfontein en hulle huis op die rotse by Heuningnesbaai stukkend gestap daai vakansie. Hier vroeg in die week roep Evert, die buurman, oor die muur uit sy groentetuin en gee ‘n pampoen aan. Gistermiddag lê ek eiervrugte peppers appelkose perskes en gemmer in. Want sien ons gaan hierdie week bietjie berg toe, en mens moet ordentlik inpak, gaan krag nodig hê vir daai klim teen die hange uit. Ons is nou nege maande hier, en ja die lewe is mooi.

Philipphus’ birthday party

Dagboek: Sondag, 27 Januarie 2019

Gisteraand kuier ons voor teen die see in Stilbaai by Philippus en Herman, en ek begin weer met my  ‘ek gaan drie stories vertel’. En ek moes vinnig vertel voor ek die drie vergeet en drie nuwes moet uitdink. Soos Karin graag vertel van ons saamkuier een aand baie laat in Stockholm. Die kuier gisteraand was ‘n heerlike besigheid. Daleen skryf Philippus hulle is hier van Greyton af, hulle kook en hulle nooi ons en ons vriende vir ete. Vrydag het Kulula vir Anthony en Monique gebring, ons vier ry vroegaand oor Stilbaai toe vir die ete. Die ding is ons het die gashere nog nooit ontmoet nie, wel nie regtig nie, en die adres is die blou huis. So ons stop by die blou huis, die agterdeur staan oop, maar daar is nie ‘n krummel kos in sig nie. Klop, iemand kom aan en sê nee dis Andre wat hier bly. En sy vrou. Ons klim terug in die kar, bos kruie en wyn en kaas en al. En ons lag. Johan bel vir Daleen en sê hier is net straight mense hier. Natuurlik is daar baie blou huise in die dorp. Nou kyk daai twee kan kook, daar was ‘n hoender storie in filo, en ‘n lamsboud en aartappels en oondbeet en boontjies in ‘n sous en nog goeters. Antoinette is ook die naweek hier van Greyton af. Daleen moes ‘n keer of twee buite gaan asem haal tussen al die lag deur.  Gister probeer ons heeldag registreer in die gemeenskapsaal. Oppad Inverroche toe, die ry is te lank. Dis Stilbaai, dis ‘n stadige besigheid. Oppad Lapskyt toe vir vis en chips, die ry is te lank. Ons sal terugkom later. Nee sê die span van die DA daai twee gaan nie vandag terugkom nie, die lunch gaan te lekker wees. Vanoggend toe die kerkklok lui, sit ons in die saal, heel voor, reg om te registreer. Die melkhoutboom is oortrek met wit blommetjies, massas van hulle, en die besigheid het ‘n onaardige reuk. So ons ruik maar eerder see se kant toe. En die voëls is in die paradys. Kaapse suikervoëls, groot rooibandsuikbekkies, en die slangverklikkers hou ons op hoogte van wat aangaan. Die see lê en bak in die oggendson, die gety trek terug, ons is oppad rotspoel toe, swemskoene en al. Dan gaan Anthony en Monique ‘n storm los braai. As julle in die nabyheid is, kom oor.

Dagboek: Sondag, 20 Januarie 2019

Hier kom die bure nou terug van hul ontbyt by die poele. Die dorp raak stil, die huise is gesluit, stoepstoele, tafels en braaidromme weggepak. Tot volgende keer. Almal is op sodawater en komkommerskywe. Nou kom die vissermanne. En die afgetreedes staan die karavaanpark vol. Hulle dryf laat middae in die poele. Joe en ek het weer kantoor oopgemaak, dis salarisverhogings en terugvoer oor die betekenisvolheid van oorerflike faktore en depressie in die lewe van Ingrid Jonker. Ja, sê Petrick, nou is die vakansie verby en Ouboet lê weer in. Met ‘n boek, tot laat oggend en vroegaand. En deur die dag pruim, appelkoos, perske en gemmer blatjang in flesse. Visaftreksel van die vakansie se kabeljoukoppe. Boontjiesop. Die herfs kom nader en mens moet voorbereid wees. Hier is hoeka ‘n springbokboud in die vrieskas. En ek het ‘n voël hoor fluit Kulula bring die week vriende uit die noode. Joe doen vierkamp, hy ry fiets, dan stap ons en dan swem ons, Maandae, Woensdae en Saterdae rol hy balle. Teen Dinsdagmiddag was die diet verby, so hier gaat ons alweer. En nou gaan ons behoorlik oor die brug. Stables toe vir pizzas saam met Derick en Emma, oornag kuier op die eiland by Groot Brak met Ivan en Mpho, vandag al langs die kus af met die vroue af in die straat vir ‘n bord boerekos erens langs die pad by Boggomsbaai. Dalk klim ek die week saam met Daleen in die kar en gaan koop olyfbome in Garcia Pas. Simon bel en vertel dit reën lekker in Pretoria, ons tuin is lowergroen, hy kyk mooi daarna. My hart mis ‘n klop, daar is ‘n wêreld van ons buite hierdie fontein, en eendag gaan ons weer oor die brug ry en daar ‘n draai maak.