Dagboek: Sondag, 30 Desember 2018

Net soos die alikreukel en kreef gewoond raak daaraan, raak ons gewoond aan die mense om ons. Vanoggend se oppak en vertrek poele toe vir die Sondagbraai gebeur toe heel rustigerig. Hierso slaap almal nog. Karin en Ivan en Mpho en Johan.  Ek maak koffie en dink terug so op die laaste Sondag van die jaar. Dis ‘n gekuier en ‘n gekook en stap en swem en gesels en lag en wyndrink, net soos ons altyd doen tussen die kerse en die nuwe jaar. Die huis en tuin speel saam en is mooier as mooi, mense kom val in. Langmiddag kuier in die misreen by Lapskyt met Elza en Henk, Cornel en Leon, en vriende se kinders kom kuier onder die boom, Marlena en Ian stap laataand oor vir cocoa carissa en gemmerbier. Johan se susters, Marina en Laetitia en swaer Fanie het kom kersfees hou onder die melkhoutboom, en ons het groot gegaan. Vanaand kom die Fouries met al die kinders en natuurlik ook met Cody kuier. Die potte prut, die wyn is op ys. Dit was ‘n goeie jaar, ons is agt maande in die huis by die see. Ons haal asem. Mag 2019 vir ons almal goed wees.

Dagboek: Sondag, 23 Desember 2018

Tjoepstil. Kom lê hier by my vannaand tjoepstil. Sing ek van vroeg af in my pajamabroek op die balkon vir die mense wat regmaak vir nog ‘n Sondag braai by die poele.  Johan probeer tussendeur bietjie laat lê maar nee daai enjins brul. Daleen het toe nie gisteraand haar bra gegooi nie, maar was close up and personal met Arno Carstens. Gedans op die los sand voor die verhoog en haar arms hoog geswaai. Ard Matthew van destydse Just Jinger kom op die verhoog met die ougatste skotse rompie, ons het heel voor gesit en geloer maar niks gesien nie. Dit was ‘n lekker aand. Daar tussen die gin bottels en die wingerde en die maan wat deur die wolke breek. De Wet en die klomp van Gourits het grondpad gevat en kom saam konsert hou. Jolanda en Sirk het heeldag gewindpomp sjerrie fietsry deur die vlaktes, gedaan gewees, so ons het hulle opgelaai vir die uitry oor die brug Inverroche toe. Gister het die Fouries ‘n stalletjie gehad by die jaarlikse Jongensfontein mark onder langs die strand. Ek maak al van September af steggies uit die tuin, aalwyne, spekboom, malvas, tiemie. Die is toegedraai in bruinpapier met dik tou om. Ma, Annarina en die drie poppe het koekies gebak en ingelê en nog goeters gemaak, my swaer Petrus was die regte verkoopman, hy het sy fietsry pelle gedreig as hulle nie beskuit of fudge of iets koop nie, Petrick het vroegdag Christina Brut op ys gesit en ‘n paar biere in winkelsakke toegedraai vir die skelm drink. Mens mag mos nie op die strand ietsie neem nie. Johan en Cornel en Karin het onder die sambreel glase geklink, en later het die hele Jongensfontein kom saamkuier. Krismis is in volle gang, Tanya en Dirk en Janette en Pieter en Lumart en Rina het kom oorslaap. So is die onderste kamer nou sommer die honeymoon suite, Lumart en Rina het vroeg Desember die knoop deurgehaak. Dis nou stil in die straat, die seewater is louwarm en die die diepsee poel roep. Geniet die Kersfeestyd.