Dagboek: Sondag, 28 Oktober 2018

Die skrif is al van vroegdag aan die muur. Spookfontein. Henning Joubert en sy kitaar maak great musiek by 3 pikkewyne van 12 uur af. Lees ek. Ons skeer, trek ordentlik aan, vat maar die droe vlakte pad, gaan sit tussen die eende en gansdamme by Botterkloof, drink wyn en eet pizza. Dit IS ‘n spookfontein, die see is heeldag weg, heeltemal weg. Digte mis hang laag en al wat jy hoor is die branders.  Heelweek het ons gesnoei en die plante gepaai, daai suidoos van laasnaweek was woes verby. Die son het Maandag deurgebreek, stilte het neergedaal en alles groei weer van voor af. Tannie Marienne Uys van Heidelberg, Lafras se ma, het doerdie jare ‘n boek geskryf, Gaste op my drumpel. Sy moes hierdie week hier gewees, het: Hanno en Karen brul op hulle Harleyl, Maryna kom kuier uit Mosselbaai en lag uit haar maag uit, Marlena en Ian het kom langsaterdagkuier, skoon van die rugby vergeet, seekos gemaak, artisjokke en eiervrug ingele vir krismiskuiers, koljander en pampoenpitpesto, en lang glase koud tussendeur. Ons stap en stap en stap en Johan het begin balle rol maar die mage raak al ronder so met die spys en drank saam. The good life. Maandag diet ons weer. Oor die bult by Vermaaklikheid was veldbrande hierdie week verskriklik erg, ons het energade en gemmerkoekies aangery vir die branderslaners. ‘n Helikopter het noodlottig geval, elf grasdakhuise het afgebrand, alles nou weer onder beheer. Komende Dinsdag kry die kwekery vars kruie en groenteplante. Daleen en ek gaan, soos toe ons jonk was en gecue het vir Wimbledon, oornag in ‘n tent op die brug voor die kwekery. Sy sal ciabatta bak, en ek vat ‘n pot mossels. Daar moet nog baie geplant word, oor ‘n paar weke is dit kersfees. Sien nounet op sosiale media: jammer mense Henning Joubert se konsert is uitgestel tot volgende Sondag.

Dagboek: Sondag, 21 Oktober 2018

Nog ‘n Sondag. Die tweede beweging uit Barcarolle met Anna Netrebko is al wat vannaand die hel van die suidoos kan stilmaak. Met ‘n shiraz viognier, al die kerse en olielampe wat brand. Nasionale tuindag en alles groei teen die wind in, hande vol kappertjies gepluk vir oggendtee. Ma Petro het weer kom kuier.  Die ooms in die straat lê koejawels in, Kobie langsaan verjaar en nooi ons oor, tafel kreun spinasietert appeltert sjokoladekoek met skok, ek vat n bos seldery beetspinasie origanum rocket met n geel strik. Vanessa van skuins hier voor ons kom stel haarself vroeër vanmiddag voor met haar twee dogtertjies en ‘n bottel rooi. Soggens kom die son op oor die see, ons koffie en rekenaar in die bed. Studente kry terugvoer op hul hoofstukke. Die dassies se babies is gebore, uiteindelik, daar is so twintig plus in die skeur in die rooi rotse hier voor. ‘n Nuwe week wag, die wind sal gaan lê.

Dagboek: Sondag, 14 Oktober 2018

Sondagmiddag terugsit en klaviere wat speel danksy spotify, die branders rol en die walvisse doen hul Sondagmiddag simfonie, die kleintjies het mooi geleer hierdie week. Gister het die suidoos die hel uit die aarde gewaai, het op ‘n stadium vir die hemel gevra vir genade vir die plante! Vars vis by Lapskyt gisteraand, lang tafel nuwe oud Stilbaai vriende. Vanoggend windstil ver stap, Sophia se noritake en silwer teepot onder die melkhoutbome uitgesit, Ma Petro het kom inloer. Radysse en gesiggies geplant vir krismis, deel gerwe beetspinasie seldery franse pietersielie uit vir die mense in die straat. Braaivleis vandag. Ons haal asem, diep in en uit, drink oor die naweek wyn af in die straat by entoesiastiese wynmakers, hul eerste Shiraz Swart Tobie Jongensfontein 2016, stap met n flits en gaan kuier onder langs die see by Drie Pikkewyne. Kom terug en daar hang ‘n sakkie avokadopere aan die deur.