Dagboek: 17 Desember 2019

Elke jaar raak die brigade vryers op die fietse net meer en meer. Daar oorkant by Fonteinsingel. My mense se meisiekinders is mooi. En die mannetjies sien dit raak. En hulle kom hand uitgesteek teen die trappe op. Middag oom. Ons meisiekinders van Wellington daar onder in die karavaanpark is ouer, ons kuier saam om die tafel, eet snoek en patats en drink rooiwyn en praat grootworddinge. Hulle kom kuier nog ‘n keer onder die melkhoutboom. Sondag is ons op Matie se plaas in Ystervarkfontein, die swartpotte prut, potbrood, skaapboud, gammon, patats en kool in room, langs die kant braai Andre hoendervlerkies en lewer in netvet. Die kalwers kom kort kort loer deur die sitkamervenster. En die lammers gaan suip daar voor die huis uit die ennamelbad op pootjies. Daar doer op die see waai die wind rof, die tolbosse kom kort-kort rant uit. Daleen eindig weer neffens Johan se blad. Voetjieshang se mense is hier, en ons kuier langure op die stoep. Hier in Voëlkliplaan is die bure se huise boepensvol van kinders en kleinkinders, en die honde en die katte het saamgekom. Kobie langsaan bak al ‘n derde rondte beskuit. Ek plant seelaventel en meelplakkies (kalanchoe luciae) en maak basiliepesto en bak vinkelbolle en maak seker daar is baie ys, die groot kersfeeskuiers het begin.