Dagboek: Sondag, 12 Mei 2019

6 Mei. N jaar later, en ons moes eenvoudig kom vier. Die huis en tuin. En kom stem. En die walvisse en die dolfyne en skilpaaie en die grysbok en die mense van die straat kom groet. Kobie langsaan bak pannekoek en maak appelmoes en nooi almal om te kom saameet. Rina en Isobel kook boerekos en ons sit laataand om die tafel en kuier. Shirley nooi ons vir ‘n glas wyn. Marina verjaar en ons gaan kuier by Lapskuit en stap ver met Fanie langs die see. Pluk bosse spinasie en kook dit met room. En staan onder die melkhoutboom met al my kombuisgoed en maak potte basilie pesto. Meidag trek Daleen en ek ons beste uitgaanskoene aan en kuier op die Press Room se stoep. Lank, so lank dat die pofadder besluit hy neem haar kombuis oor. Ons kook Morokaans, en Gerrie en Christina en die van Wyks kom oor. Ons dans en dans en lag en maak vuur en praat mekaar tot in die ongestroopte praatdinge in. Die Tollenaars is besig. Hardu en Juanita het oupa en ouma geword, die piepkleinding is hier in die straat. Dis Moedersdag, Drie Pikkewyne is vrolik opgekleur vir die dorp se mense. Hier prut hoender en soetpatats en skorsies en nog ‘n gerf spinasie. Oor ‘n maand of twee is ons weer hier.