Dagboek: Sondag, 17 Maart 2019

Eskom sorg vir doodse stilte so op die middaguur. Al wat ons hoor is die branders hier voor en die hoenderpot op die gas. Karin is terug Boland toe, Annarina en Petrus en sy pa hulle en die kinders braai vis daar oorkant op Fonteinsingel se stoep, hulle het vroeër kom kuier met ‘n vlakoek. Hannelie en Franso het die week kom kuier in die boom en kom vis braai en ver stap langs die see. Hier is tussendeur groot bakke kerrievis ingelê. En daai potte ingelegte hanepootblatjang en basiliepesto word laat soggens uitgepak met brood en wyn onder die boom. Dis immers herfs. Karin het haar twee dinge op die naweeklys afgemerk, ons het gewals op Stef Bos se De Verliefden en ons het in die poele geswem en daarna koffie gedrink op die rotse. Daleen bak charcoal en koljander brood saam met ‘n pot swartmossels, Christina is terug uit die Alpe en haar uil vlieg tussen ons deur onder haar melkhoutboom om te kom groet. Ja dis lekker hier. Op Jongens. En Stilbaai.

Dagboek: Sondag, 10 Maart 2019

Van al die vis op my bord is die kabeljou die lekkerste, sê Johan van Gerda gistermiddag by Lapskuit. Hulle twee en Elza en Elmarie het die naweek uit die Boland kom kuier. Dis koud en nat en die wind waai en ons kuier onverpoosd voort om die olielampe, dis mosselbobotie, en snoek en patat breyani, en waterblomme en skenkel en spekboompot, en natuurlik wildspastei met ‘n slap degie. Maar moenie worry nie, onse grysbok vreet nog rustig voort aan alles in die voortuin.  Ma Petro is op Jongens, en het help bak. Marlena kom vroegaand aan met ‘n flits om spinasie te pluk vir hulle pot. Van laas Sondag af baljaar ‘n moordvis (orca) hier voor net agter die branders. Johan het diens gedoen by die rolbal, hy vertel hoe die spanindeling werk. Die wilde dagga (Leonotis leonurus) is in volle blom en as jy plat in die straat voor die huis lê en opkyk sien jy die huis in die wolke omring met stringe oranje blomme. My rekenaar se sleutelbord werk nog so net net, dit krul op teen die kant. Hy is moeg gesabbatsjaar. Nou gee ek hom baie rustyd en wanneer ek tik is dit ‘n geslanery van ‘n ander aard. Soos julle dalk al weet, het ek ons Jongensfontein storie in ‘n blog vasgevang. Sabatinjongens.com. Al die Sondagskrywes is daar. Oor drie weke is dit fluit fluit die storie is uit. Vir eers. Tot dan gaan ek aanhou om whatsapp stories te stuur. Geniet die Sondag, en as julle in die omgewing is, kom klim in die boom.  Met ‘n glasie Inverroche Marmelade likeur.

Dagboek: Sondag, 3 Maart 2019

Nou gaan Kulula EERS voluit en die George lughawe roer. Die N2 is net so bedrywig uit die Boland. Dis Maart, dis herfs en dis groot kuiertyd. ‘n Grand finale van die sabbatsjaar. Tanya en Chris het afgevlieg met tasse vol goeters uit hulle tuin en vele flesse en bottels. Vandag kook ons saam uit drie tuine van Kayalami, Stilbaai tot Jongens, en uit twee kombuise. Dis klein swart vye en tamaties van elke moontlike kleur en grootte en mozerella en basilie, net soos ons dit twee jaar gelede in Provance gedoen het Louise, en spinasie en eiervrug, salie en wilde knoffel blomme wat in ‘n slap degie in olyfolie gebraai word, boomtamaties uit Gerrie se tuin, brood uit Daleen se oond, en die filet is uit die oond en toegedraai in hande vol gekapte kruie. Dis ‘n beeldskone mooi dag, die seewater is glad en lou. Ons kuier onder die boom. Die week is korrelkonfyt en druiwe en appelblatjang ingelê. Gertie het kom help skil en prut en tussendeur het Karolien af in die straat kom help seker maak dat hierdie sabbatstories en saamkuierkiekies vir ewig onthou sal word, daaroor meer ‘n ander dag. Ons stap ons swem ons lapskyt ons kuier onder baie melkhoutbome, en o ja natuurlik onder die peperboom by Inverroche. Hier is nog oop stoele onder die melkhoutboom, kom kuier saam.