Dagboek: 28 Desember 2019

Ek het al op die dak gaan sit. En bo in die melkhoutboom. Maar die wind wil my nerens heen waai nie. Moet iets te doen hê met die kilogram of vyf wat bygekom het in die vier weke hier by die see. Die lewensmaat is met sy maandeinddinge besig, ek moet myself besig hou. Het ‘n verslag of twee vroegoggend geskryf, aandete begin saamslaan, by die sibbe in die karavaanpark en oorkant by die familiehuis gaan kuier, roosterkoek en peppermintkrisptert later. Nou het ek maar die lorrie gewas want in hierdie geweste kan mens nog met n vuil mercedes Sondag kerk toe ry, almal bid vir reën, maar in ‘n vuil Fiat lorrie op ‘n Sondag Spar toe om koerante te koop, nee dit kan nie. En die wind waai. Evert langsaan begin hout kap en ek weet hy gaan nou nou vuur opsteek, ek hang oor die muur en tref ‘n reeling dat as die wind die kole die kant toe waai gaan ek vinnig braai en sal hom laat weet wanneer die kole weer sy kant toe waai. Hy se hoeka eergister die wind het ‘n paar stukke van sy huis deur die nag weggewaai maar hulle het gelukkig almal weer teruggekom. As ek so by die venster uitkyk is die dorp doodstil. Almal is in Mosselbaai, dis Afrikaans is groot by die see. Demi en Steve gaan sing, hulle is blykbaar vandag se Ge en Min Shaw. En ook Snotkop. Daar oorkant by die familiehuis loop ‘n skilpad al agter my suster aan as sy wasgoed ophang en Evert sê hier agter in sy groentetuin het ‘n skilpad al sy spanspekblomme netjies kom afvreet. Dis amper vyf uur, ek neem aan die maandeinddinge maak nou klaar. En ek het nog nie eers oor die wind gekla nie.

Dagboek: 17 Desember 2019

Elke jaar raak die brigade vryers op die fietse net meer en meer. Daar oorkant by Fonteinsingel. My mense se meisiekinders is mooi. En die mannetjies sien dit raak. En hulle kom hand uitgesteek teen die trappe op. Middag oom. Ons meisiekinders van Wellington daar onder in die karavaanpark is ouer, ons kuier saam om die tafel, eet snoek en patats en drink rooiwyn en praat grootworddinge. Hulle kom kuier nog ‘n keer onder die melkhoutboom. Sondag is ons op Matie se plaas in Ystervarkfontein, die swartpotte prut, potbrood, skaapboud, gammon, patats en kool in room, langs die kant braai Andre hoendervlerkies en lewer in netvet. Die kalwers kom kort kort loer deur die sitkamervenster. En die lammers gaan suip daar voor die huis uit die ennamelbad op pootjies. Daar doer op die see waai die wind rof, die tolbosse kom kort-kort rant uit. Daleen eindig weer neffens Johan se blad. Voetjieshang se mense is hier, en ons kuier langure op die stoep. Hier in Voëlkliplaan is die bure se huise boepensvol van kinders en kleinkinders, en die honde en die katte het saamgekom. Kobie langsaan bak al ‘n derde rondte beskuit. Ek plant seelaventel en meelplakkies (kalanchoe luciae) en maak basiliepesto en bak vinkelbolle en maak seker daar is baie ys, die groot kersfeeskuiers het begin.

Dagboek: Sondag, 8 Desember 2019

As Ma skryf ons kom môreoggend half elf oor vir Sondagtee, dan haal jy uit. Teepot en Sophia se blou porselein en iets vars uit OK. Skillie homopus speel saam en vreet reg langs die oprit as Ma, oom Louis en die van Noordwyks stilhou. Op die stoof prut bredie, die dag is grou. Johan speel musiek uit die 90s, ‘n kadettjie maak die dag sag. Ons sou, soos laasjaar, gaan mossels uithaal vanoggend op Matie se plaas in Ystervarkfontein, maar die grysweer werk nie lekker saam nie. En Matie en die manne is in elk geval gister reeds met Albertinia Lugrederye oor ‘n paar sanddyne en terug hoop ek as ek die ding so kyk. Vrydagaand kuier die mense van Voëlkliplaan en Fonteinsingel hier. Onder die melkhoute. Johan spuit die melkhoutswartbessies weg, dis ‘n taai gemors besigheid, ons braai ‘n ding of twee, steek kerse op, en skink gin van hier tot in die Klein Karoo en die Kalahari. Evert van langsaan seën die ete, die samesyn, ons almal se feesseisoen, en trek weg met for they are jolly good fellows. Die Fiat is Donderdag gediens, Rina af in die straat ry ons heen weer, want dis huis skoonmaak, die kwekery langs die begraafplaas open en hulle skryf kom drink ‘n bubbly en Marius verjaar en ons kuier saam op die stoep daar skuins bo die jetty. Gistermiddag ry ons oor en gaan eet ‘n gebraaide vissie by Lapskuit voor die groot vakansie begin. Voetjieshang daar agter se boot staan reg. So gepraat van die jetty en Lapskuit, ai die stoutgat kinders is in die dorp en jaag kwaaddinge aan, braai en drink en doen daai stoutgatkindersdinge, al wat hulle los is ‘n paar gebruikte kondome sê Elske, en ons ou klompie grysaards is mos nou kwaad. Waar is Japie Tambok. Goeie pak slae sê die mense. Van die grysaards voel die ouers moet ook sommer ‘n pak slae kry. Daleen stuur die datums wat die verkeersklomp met blokkades gaan kwaai wees, net-net oor die limiet en dis twee nagte in die tronk. Nee sê ek dan ry ons eerder perd. Okaai bye, ons is oppad om een te gaan koop, daar is een in die mark net duskant Barrydale.